Jou Jaar Vol Nuwe Beginne.

- 2018 Jaartema vir Genade Kerk -

 

"Kyk, Ek maak alles nuut." - Jesus

Op 21:5

 

Die tema vir 2018 is die Jaar van Nuwe Beginne. En dis wat ons gaan sien gebeur in ons lidmate se lewe. Skuus, in JOU lewe.

Ek weet dis bietjie swak Afrikaans, maar daar gaan vir ons wat ingeskakel is by Genade Kerk baie plekke wees waar ons `n nuwe begin beleef.

 

Waar het jy `n nuwe begin nodig? Jesus gee dit vir jou.

Voel dit asof jou gesinslewe vol stories en issues is? Voel dit asof jou huwelik maar droog en vervelig, selfs op die rotse is? Is jou beroep in `n doodloop straat? Het jou finansies `n duik gevat? Sit jy op moedverloor se vlakte, waar depresiewiteit al die mooi goed in jou lewe verwoes? Selfs al is niks in jou lewe in `n desperate toestand nie, is dit nogsteeds Jesus wat vir jou groei en verbetering en dieper betekenis gee.

Dalk voel jy dat die kerk in die verlede heeltemal te veel druk op jou gesit het. Doen dit, wees by die aksie, gee jou geld, ens. Miskien het die mense in jou vorige kerk jou teleurgestel of diep seer gemaak.

Maar as jy dalk voel om weer hierdie kerk-ding `n kans te gee, staan Genade Kerk se deure en ons harte oop vir jou. Dalk is dit juis een van die nuwe beginne waarna jy soek. (Selfs al maak ons ook foute, wil ek nogsteed sonder huiwering jou uitnooi om ons te kom uitkyk.)

Jes 61 vertel van `n nuwe begin op soveel tereine. Jesus het gekom dat die wat hartseer is, weer gesond kan word, dat die wat platgeslaan en moedeloos is, weer nuwe hoop en rigting kry, dat die wat iewers vasgevang is in `n tronk, vrygelaat word. Hy het gekom om die goeie nuus aan die armes te bring, om vir die wat moeg en uitgebrand is rus te gee.

 

Jesus het gekom om die genade van die Here te bring.

Jesus is die oplossing vir enige tipe probleem of struikelblok wat voor jou lê. Dis Hy wat die mure wat rondom jou is, afbreek en vir jou `n nuwe begin gee. Dis ons enigste fokus punt – om vir mense soos jy (ek ek) na Jesus toe te wys. Daarom is ons slagspreuk "Gefokus op Jesus".

Party plekke van jou lewe is dalk nou niks meer as `n hoop rommel, `n puinhoop nie. Hy sê ook dat jy weer hierdie puinhope sal herbou. Eintlik is dit Jesus wat in jou en deur jou, hierdie rommel skoonmaak en iets nuuts en moois daarop bou.

Party goed is dalk heeltemal af gebrand, dat daar net as is. Miskien is jou beroep sonder hoop, dat jy werkloos is en al vir maande nie `n nuwe werk kry nie. Miskien het jou kind jou verwerp, dat sy niks meer met jou te doen wil hê nie. Miskien is jy deur `n egskeiding. Alles is tot niet, daar is net as oor. Jesus is die een wat gesê het dat Hy `n iets moois, soos mooi nuwe klere gee in die plek van daardie as. Die Bybel sê dat `n sierraad is in die plek van as. `n Fonteinland, in die plek van die droeë laagte (Ps 84:7). Vir geboeides, opening van die gevangenis. Om treurendes te troos. Vreugde-olie vir hartseer. Klere van lof in pleks van depressie.

Dis waarna jy kan uitsien – Jesus gee vir jou `n nuwe begin, vir jou persoonlik. Vir die meeste van ons, gee Hy sommer `n klomp nuwe beginne.

Ons wil nie heeltyd oor die hartseer en probleme gesels nie. Nee, ons aanpak is eerder om te kyk hoe Jesus ons vreugde en ons oplossings is. Inteendeel, ons gaan nie baie kla oor dit wat verkeerd is nie, ons gaan baie meer praat oor hoe dit reg is of voorentoe reg sal wees. Dis hoop, dis geloof, dis Jesus wat in die middel van ons gesprekke staan. 

 

Kom met `n honger, met `n verwagting. 

Gaan hierdie jaar in met die verwagting dat die Here vir jou `n Nuwe Begin gaan gee. Hou jou oë op Hom, soos wat `n hond die been in sy baas se hand dophou. Ok, die Bybel praat van die oog van die diensmeisie op die hand van haar meesteres. Hou jou oë so op Jesus. Daai brakkie weet dis net `n kwessie van tyd voordat daai been in sy bak beland. Hy sit voor sy bak, sy mond water, sy stert swaai. Hy sien net sy baas raak (en die been in sy hand). Hy steur hom nie aan die fietse wat in die straat verby ry nie, of aan die posman nie. Hy is gefokus op sy baas. Hy weet daai been is syne.

Verwag jou nuwe begin. Jesus het daarvoor betaal. Dis joune. 

 

Een-op-een tyd met die leier vir vinnige en permanente resultate.

Hierdie jaar gaan ons sien hoe die Here dit vir ons gee. Ons gaan daaroor gesels in ons preke, bybelstudies en byeenkomste. Ons gaan in een-op-een sessies dit behandel met ons lidmate, sodat daardie nuwe begin persoonlik word.

Laat ek dit so verduidelik. As daar `n lidmaat is wat `n nuwe begin in sy beroep soek, en `n ander lidmaat wat dit in haar gesondheid soek, is die basiese boodskap dieselfde. Om dit in hulle eie omstandighede te sien gebeur, sal dit verskillend aan gepak moet word. Daarom doen ons gefokusde groep sessies, asook een-op-een sessies. Jy het altyd vrye toegang om persoonlike afsprake met die leierskap in Genade Kerk te maak, dat ons as leiers jou kan help om persoonlike oplossings vir jou spesifieke situasie te kry. Die leier wat die beste toegerus is vir jou situasie, sal jou hiermee kan help. 

 

Gebou op die fondament van Jesus se volmaakte werk. 

Die Here belowe ons al hierdie dinge en meer. Dis net danksy Jesus wat ons hierdie belofte kan ontvang.

Toe Jesus in ons plek gestaan het, om God se woede, oordeel en vervloeking te ontvang, het God alles op Hom laat neerkom. Dit het op Jesus af gekom, nie op ons nie. En dis nou afgehandel. (Joh 19:30) Niks van God se woede vir ons sonde het oorgebly nie.

Daarom het God ons toegemaak met klere van verlossing. Hy het ons toegewikkel in klere van geregtigheid. (Jes 61:10) Jesus se volmaakte gehoorsaamheid het Hy vir ons gegee, toe Hy ons straf op Hom gevat het. Dis `n volmaakte uitruiling – ten koste van Jesus en ten bate van ons.

Dit maak regtig nie saak watter goeie ding wat die Here vir ons gee nie, dis alles gebou op die fondament van Jesus se volmaakte werk aan die kruis, en deur sy opstanding. Sonder die kruis, kan ons op niks aanspraak maak nie, maar as gevolg van die kruis, is alles nou ons s'n.

 

Kom sakel in. 

As jy nog nie by Genade Kerk betrokke is nie, is jy baie welkom om ons by ons te kom inskakel. Ons is nou nog in die beplannings- en voorbereiding fase om hierdie nuwe kerk te plant. Jy kan nou al by ons klein groepies kom inskakel. Bel my, dat ek jou kan ontmoet en vertel waar ons klein groepies bymekaar kom.

Alhoewel ons die visie het om `n groot, impakryke gemeente te word, is ons fokus heeltyd op die individu, op jou. Ons wil graag sien hoe jy groei, ontwikkel, nader aan Jesus kom. Al ons bedienings draai rondom individue, klein groepe, vriende kringe, kinderkerk, prediking, alles.

Verder, as jy lus het, kan jy kom inskakel by die ondersteunende bedining groep. Hierdie groep gebruik hulle tyd en talente om die wiele van Genade Kerk glad te laat rol. Hierdie groep bestaan uit mense wat wissel van klank ingeneurs tot musikante, verwelkomers tot stoele pakkers, koffiemakers tot kinderkerk toesighouers, geld tellers tot grafiese ontwerpers. Daar is soveel plekke waar mense hulle talente en tyd kan gebruik. Gesels ook met my daaroor, dat ons die plek kan kry waar jy jou passies en talente kan uitleef, binne die opset van die kerk se bestaan.

 

Kom skakel in.

Powered by OrdaSoft!