Hier kry jy meer geloof.

Die geloof kom dus deur die prediking wat 'n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus. (NAV)
Rom 10:17

 

Die dissipels het een keer vir Jesus gevra: “Gee ons meer geloof.” Ek is seker dat jy ook soms so voel. Ek weet, ek voel ook soms so. Want oral waar ons lees, het geloof iewers `n vinger in die 'pie'. Dis deur geloof wat ons gered word, dis deur die geloof wat mense hulle gesondheid of ander wonderwerke ontvang het. Heb 11 vertel vir ons dat die geloofshelde hulle wonderwerke deur geloof ontvang het.

Dalk is jy vandag op daardie plek dat jy `n wonderwerk nodig het. Het `n dokter vir jou slegte nuus gegee? Wonder jy wat skeel met jou huwelik? Is jou tiener dogter `n handvol? Is jou baas dalk `n handvol? Trek jy jou hare uit jou kop omdat die projek waaraan jy werk net nie wil regkom nie? Wil jy ook uitroep: “Here, gee my meer geloof!”

Ons kan net geloof by Jesus kry. Hy is die enigste een wat dit uit Homself het, om te kan weggee. Ons het dit nie in onsself nie, dis nie iets wat natuurlik vir ons is nie. Kyk weer na Rom 10:17. Ek hou van hoe die Ou Vertaling dit sê: 'Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.' Wat in die Nuwe Vertaling uitkom, is dat dit die verkondiging van Christus is. Geloof is uit die woord van Christus, die Woord wat oor Jesus gaan.

Wat gebeur is dat ons so maklik vaskyk in die probleem of ons omstandighede, dat ons vergeet om ons fokus op Jesus te sit. Ons word moedeloos oor omstandighede, dat ons nie eens lus het om tyd saam met God deur te bring nie. Of wanneer ons dit wel doen, lees ons met gedeelde konsentrasie, dat ons nie regtig vir Jesus soek in daai gedeelte nie. Probleme is baie kere die ding wat ons aandag van Jesus af aftrek.

Maar wat wel sal gebeur wanneer ons tyd met Jesus spandeer, tel hy die las van ons skouers af op en sit dit op sy eie skouers. Wanneer jy die Bybel oopmaak, vra die Heilige Gees om Jesus vir jou uit te lig. Wanneer jy vir Jesus sien in daardie gedeelte, sal jou geloof onbewustelik groei. Geloof kom net wanneer jy hoor hoe Jesus verkondig word.

Fil 4:6 sê dat ons oor niks bekommerd hoef te wees nie. Maar wanneer ons wel bekommerd is, hier is `n voorstel hoe om jou aandag weg te kry van die bekommernis af. Gaan na God toe: “Vader, ek is bekommerd oor die en daai. Ek wil nou net `n rustige tydjie met Jesus spandeer. So ek los nou die bekommernisse by U, sodat ek ongehinderd op Jesus kan fokus.”

Dan vat jy jou Bybel en lees, soekende na Jesus – sy volmaaktheid, sy lieflikheid, sy skoonheid, sy geregtigheid, sy perfekte karakter. Spandeer net tyd met Hom, om sy geselskap te geniet. Of sit `n goeie, genade gevulde preek aan. Of in besondere gevalle, gaan gesels met `n genade gebaseerde raadgewer of berader. Laat hy of sy jou vir jou wys hoe Jesus die oplossing van jou probleem is. Aan die einde van dit alles is dit meklik om net 20 minute, selfs 3 minute af te staan om sonder bekommernisse net op Jesus te fokus. Jy sal weet dat jy `n goeie tyd met Hom gehad het, wanneer jy agterkom hoe die wolk oor jou kop oplig.

Luister wat Jesus gesê het, kyk wat Hy gedoen het. Luister wat die hele Nuwe Testament van Jesus sê. Luister wat die apostels oor Jesus vertel het.

Somtyds is jou wonderwerk, jou deurbraak dadelik daar. Ander kere kom dit so saggies en onopsigtelik, dat dit amper natuurlik lyk. Dit maak nie saak of dit met trompet musiek kom of saggies in die middel van die nag nie, Jesus is die een wat die deurbraak gee.

'Here, gee ons meer geloof.' 'Die geloof is deur die woord van Christus.'

 

 

© 2017 Francois du Toit, Genade Kerk.

Image courtesy of surasakiStock at FreeDigitalPhotos.net

Powered by OrdaSoft!