Gesels met Pa.

... laat julle begeertes in alles deur gebed bekend word by God... En die vrede van God, sal julle bewaar.
Fil 4:6 (verkort)

Nie lank terug nie, het ek en Rosemarie by vriende gaan kuier. Ons wou net saam War Room kyk en bietjie daaroor gesels. Ons was net na sewe die Vrydag aand daar. En toe ons ry kyk ons na die horlosie – dit was vier uur in die oggend. Verbaas oor waar die tyd staan, was ons nogsteeds nie uit gekuier nie.

Gebed is vir baie dominees en pastore `n ingewikkelde saak. Of dit lyk altans vir my so, as ek na preke oor gebed luister. Daar is die 5 of die 7 elemente van gebed, daar is die sinnetjies wat in elke gebed moet wees, en daar is die redes wat sal maak dat God nie na gebede luister nie. Sjoe, wat `n klomp reëls en regulasies. Nie alles daarvan is verkeerd nie, maar dit maak dit nogal intimiderend om te bid. Mense sien al klaar op daarteen om te bid, nog voordat hulle begin het.

In hierdie kort boodskappie wil ek die fokus daarop sit dat gebed iets baie eenvoudig is.

Niemand van ons wat daardie vrydag aand gesit en kuier het, het `n studie gemaak van die elemente van `n goeie opbouende geselskap nie. Niemand het dit in `n struktuur probeer indruk nie. Die struktuur was eenvoudig. Eers was dit die goeie maniere groetery. Toe was dit kuier, fliek en `n paar koppies koffie. Later was dit om vir Mary-Ann kar toe te dra en totsiens te sê. Dis dit. Eenvoudig.

En gebed is dieselfde. Dis nie eers nodig om die Here te groet aan die begin van `n gebed nie, want Hy is altyd by ons. Begin net om met Hom te gesels. Gebed is net om met God te gesels. Dis al. Eenvoudig. Dis net om in Jesus se teenwoordigheid te sit en af te pak. Partykeer is gebed net om stil te sit by Hom. "Jesus, ek weet nie wat om te sê nie, maar ek wil net U wees." Partykeer huil jy by Hom, ander kere sit jy net by Hom en ontspan. Somtyds vra jy vir raad en leiding, ander kere vertel jy Hom van `n opwindende ding wat gebeur het. Baie kere is dit net `n sagte "Dankie Jesus" fluistering.

Ek hou baie daarvan om met my hande te werk, veral houtwerk. Soveel was wat ek daarvan hou is my werkswinkel en toolbox gewoonlik deurmekaar. Dan klink my gebed so "Pa, waar is die 4mm boorpunt?" "Pa, waar is die sterpunt skroewedraaier?" Niks daarvan om so te bid nie – "Onse almagtige God en hemelse Vader, in die wonderlike Naam van onse verlosser en saligmaker, Jesus Christus, kom ek nederig na U toe. Ek kom lê my nederige versoek aan U voete neer, dat U my daarin genadiglik kan aansien. Wil U dit in U grote barmhartigheid aan my openbaar waar ek my skroewedraaier kan vind? Ek bid dit met danksegging, in die soete Naam van Jesus Christus, U enigebore Seun. Amen." En dan staan ek van my knieë af op. Ek oordryf nou, moenie hierdie voorbeeld te ernstig opvat nie. Geel knipoog mannetjie prentjie. Daar is niks fout met die hoogdrawende gebed nie, alles daarin is waar en Bybels en reg. Dis net ietwat onnatuurlik. Mary-Ann praat nie so met my nie. Die punt wat ek wil maak is dat jy met God gesels in die styl wat vir jou natuurlik is.

My pastoor, Joshua McCauley van Redemption Church het een keer die opmerking gemaak dat God se liefdestaal is kwaliteit tyd. Hy wil tyd saam met jou spandeer. Hy ken jou deur en deur, Hy verstaan al jou behoeftes en begeertes en uitdagings. Maar Hy wil hê dat jy weet dat Hy naby genoeg is om mee te gesels. Wees net jouself by Hom.

Gesels net met Hom, wat ook al vir jou belangrik is, selfs die klein, minder belangrike goed. Gesels met Hom. Praat oor jou huwelik, jou werk, jou gesondheid, jou gesin, jou drome, jou swakhede, jou ideale, jou toekoms, jou verlede, jou vrese, jou stokperdjies, jou verwagtinge, jou vrese, jou finansies, jou tuinwerker, die verkeer, die weer, jou baas, jou kerk, wat ook al. Selfs al klink jy soos daardie tannie by die skool parkeerterein wat net nie kan ophou praat nie, maak nie saak nie. Praat met Pa.

Gebed is net daardie een woordjie wat jy met Hom gesels. Maar dis meer as net praat, dis die tyd wat jy besef dat Hy by jou is. Dis `n lekker tyd.

Dis wanneer ons so sonder maskers met Hom praat, dat ons verder gaan met iets wat voorheen net vaag was – die vrede van God.

Laat ek nou Fil 4:6-7 heeltemal hier uit skryf.
"6 Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.
7 En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus."

Kyk hoe sê vers 6 om net opreg met Hom te gesels. Gebed, smeking, danksegging, is maar net verskillende woorde wat vir ons vertel waaroor ons met God kan gesels. Dis nie nodig om hoog tegnies en teologies te raak oor die betekenis van die woorde nie. Praat net met Pa.

Dan is een van die gevolge van hierdie geselsie, dat God sy eie vrede vir jou gee. Vrede is meer as net kalmte, maar ons kan later gesels oor die groter betekenis van vrede. Kom ons bly vir nou net by die betekenis van kalmte en vreugde. So lekker as wat dit is om met jou huweliksmaat te sit en gesels, nog soveel lekkerder is dit om met God te gesels.

Gesels met Pa, want jy sal met kalmte in jou hart en `n glimlag op jou gesig daar wegstap.

© 2017 Francois du Toit, Genade Kerk

 

 

Image courtesy of Vlado at FreeDigitalPhotos.net

Powered by OrdaSoft!