Seën en Vloek, en nog iets?

Die vloek van die Here is in die huis van die goddelose, maar Hy seën die woning van die regverdiges.
Spr 3:33

So `n rukkie terug hoe `n prediker die opmerking maak dat daar nog iets bykom wanneer daar van oor seën en vloek gepraat word. En hy het gesê dat hierdie derde ding ook op gelowiges van toepassing kan wees. Dalk het jy ook al hiervan gehoor.

Dit kan min of meer soos volg beskryf word (in my eie woorde):

"Mense is of onder die seëning van God, of die seëning van God is afwesig. Hulle is nie onder die vloek nie, maar God se seëning is net afwesig in hulle lewe."

Kyk na hierdie versie hierbo. Dis net seën en vloek. Dis nie seën, afwesige seën en vloek nie.

As gelowige het jy Jesus se eie geregtigheid ontvang as `n geskenk. Jy is volkome regverdig, met Jesus se eie geregtigheid.

Kyk watter twee persone hierbo genoem word, net die godelose en die regverdige. As jy in Jesus glo, is jy die regverdige. Jy is hierdie regverdige. Hierdie seëning is joune, dis myne. Jy is nie die goddelose nie.

Daarom, verwag jou seëning!

Jy is geseën as jy uit jou huis uitgaan, jy is geseënd as jy terugkom. Jy is geseënd in jou werk en in jou gesin. Jy is geseënd in jou gesondheid en in jou huwelik. Jy is sommer maar net in alles geseënd. Verwag dit oral, want jy is bekleed met Jesus se eie geregtigheid, sy gehoorsaamheid, sy onskuld.

Hier is vir jou `n bietjie huiswerk. Gaan lees Deut 28:1-14. As jy daar lees, sal jy sien dat daar `n voorwaarde is ir hierdie seëninge – volkome gehoorsaamheid aan die wet van God. Dis hoekom jy moet weet dat Jesus volkome gehoorsaam was in jou plek. Daarom ontvang jy al hierdie seëninge waarvan hier gepraat word. Dis joune, op grond van Jesus se gehoorsaamheid. Deur die geloof, word sy eienskappe en sy prestasies jou eie.

Deut 28:1-14 is `n opsommende verduideliking van God se seën.

As jy vannaand by die huis aankom, sê vir jouself: "Ek is geseënd as ek by die huis kom." Dan verwag jy om `n goeie aand saam met jou gesin te hê. More oggend, voordat jy in jou kar klim op pad werk toe: "Ek is geseënd as ek uitgaan." Verwag `n goeie, produktiewe, winsgewende dag. Verwag goeie resultate in dit wat jy doen.

Wanneer jy `n nuwe projek begin, of selfs in die middel van iets, sê vir jousself: "Alles wat my hand aan vat, is geseënd." Verwag dit. Voordat jy vannaand gaan slaap: "Ek is geseënd wanneer ek gaan slaap." Verwag om `n goeie nagrus te hê.

Moenie dat iemand, selfs nie eers jou eie gedagtes jou anders probeer oortuig nie. Gedagtes mag by jou opkom, dat jy eerder iets slegs moet verwag. Dis bog, verwag die goeie. Want die Een wat die goeie seëning vir jou stuur het baie meer gesag en mag as enige iets of iemand wat die slegte oor jou pad wil stuur.

`n Goeie uitgangspunt waarvolgens jy jou lewe kan leef, is om heeltyd seëning te verwag. Verwag dat jy `n goeie dag sal hê, dat jy goeie kontrakte sal beklink, dat jy goeie winskopies sal raakloop, dat jy meer wins sal maak as wat almal verwag, dat jou baas jou sel respekteer, dat jou kolegas na jou sal opkyk. Verwag dat dit met jou sal goed gaan in... (vul die oop spasie in deur iets wat hier reg voor jou is.)

Selfs wanneer die natuurlike tekens daarop wys dat jy `n dooie perd probeer ry, verwag die goeie, verwag seëning.

Deur Jesus se bloed is jy die regverdige, hierdie persoon van wie Salomo hier geskryf het. Op grond daarvan is die seën van die Here op JOU.

 

Vrae:

As jy oor seëning dink, wat beteken die woord seën vir jou?

 

Wat is die effek van seëning wat mense in hulle lewe beleef?

 

Hoe sal jy dit in jou lewe beskryf dat jy geseënd is? Gee `n praktiese voorbeeld of twee.

 

Wat sal dit vir jou makliker maak om jouself aanhoudend te herinner dat jy geseënd is?

 

Image courtesy of Stuart Miles at FreeDigitalPhotos.net

 

Powered by OrdaSoft!