Die Goeie Pa

En toe hy nog ver was, het sy vader hom gesien en innig vir hom jammer gevoel en gehardloop en hom omhels en hartlik gesoen.
Luk 15:20

Die varkhok is `n aaklige plek om te wees. (Ek dink nogal dat ons ouers aan die verlore seun gedink het as hulle van ons kamers gepraat het, toe ons kinders was.) Dis vuil, dit stink, daar broei goggas wat nie goed is vir ons nie. En daar is gebrek. Nadat die jongste seun al sy eiendom vermors het, het hy gebrek gehad. Hy was arm, honger, met skaars genoeg klere aan sy lyf.

Elkeen van ons is soms in die varkhok, in somige gedeeltes van ons lewe. Partykeer stap ons net daardeur, ander kere is mense daar vas gevang. Is daar `n gedeelte van jou lewe wat `n gemors is? Is daar plekke wat vuil en deurmekaar is? Die areas waarna ek verwys is iets soos jou huwelik, die verhouding met jou ouers, jou beroep, jou finansies of jou gesondheid. Het enige van hierdie areas dalk gebrek, of het dit al begin stink?

Die hoofkarakter in hierdie verhaal is nie die verlore seun nie, dis die pa.  Sommer dadelik wil ek noem dat hierdie pa, ons hemelse Pa verteenoordig.

God gaan uit sy pad uit vir jou.

...en hy roep sy eie skape by hulle naam...
Joh 10:3

Daar is soveel plekke in die samelewing waar ons maar niks anders as `n nommer is nie. Dis `n ID nommer, 'n rekening nommer, selfs `n nommer wanneer jy in die bank se ry wag. “Now serving Nr 197 at counter 3.” Of as jy onder die sekuriteitskamera in die mall verby loop, is jy maar net nog `n gesig in die skare.

Soms voel ons ook asof niemand ons raaksien nie. Op hoërskool het ek regtig by tye gedink dat ek onsigbaar is (en dis nie `n superpower nie). Vir jou baas of jou neef is jy maar net daar.

As jy voel asof jy nie belangrik is nie, of vir niemand iets beteken nie, is dit presies hoe die duiwel wil hê dat jy moet voel. Hy sal juis wil hê dat jy moet dink dat jy selfs nie eers vir God belangrik is nie.

Maar jy is vir God belangrik.

Powered by OrdaSoft!